Sunday, September 21, 2014

Steve Hofmeyr

Ek dink ek kan 'n boek skryf oor Toeka 3. Ek sal nog. Wat soos die voriges die eenvoudigste projek moes wees, wou net nie tande sny nie. Dit het vroeg al begin. Maar die eindproduk is nou hier - en alhoewel laat, is ek verheug. Toeka verskeep Maandag en behoort darem teen Vrydag landwyd beskikbaar te wees. Maar hier is wat vooraf gebeur het.
Almal ken Toeka. En Toeka 3 is meer van daai lekker. Ek sing 18 ou treffers tot die hoendervleis staan soos Pierre de Charmoy, Herbie, Danie Botha, Clout, Clive Bruce, Anton Goosen en vele ander inval op hul eie grootste treffers. Dan hoor jy Bobby Angel, Gert van Tonder, Coenie de Villiers asook nuwe verrassings met Fanie de Jager en Jennifer Jones. My hoogtepunt is die gewyde MAG GOD U SEËN saam Gé Korsten. As ek dit maar kon doen toe hy gelewe het. Daar's ook oorspronklikes soos ONS BLOED BLY BLOU en SIT DIE LIGTE AAN wat reeds nommer een is op vele treffersparades landwyd.
En dan natuurlik DIE STEM; omdat almal so mooi gevra het - opgedra aan alle inmengende stadsrade, kultuurverloëners en sensuurrade. Miskien kan ek 'n boek skryf nét hieroor. Om te sê ek doen DIE STEM vir eie gewin, is vreemd. Kulturele gewin? Ja, beslis. Finansiële gewin? Goed, maar sal hierdie 'gewin' dan die nasionale boikotte teen my, insluit? Aankopers, verspreiders, radiostasies, feesrade, stadsrade, casino’s, tydskrifte en kliënte verban my oraloor. Eie gewin is seker relatief, nê Billy.
Ek verstaan Billy Forrest, een van my grootse Country helde ooit, gooi nou groot woorde rond, soos "exploitation". Maar almal, hy meer as die ander, weet presies hoe dit werk. Die Toeka’s is en was altyd eenmanvertonings, dáárom die videoskerms. Natuurlik het ek destyds 'n punt daarvan gemaak om af en toe by verskillende geleenthede en toere verskillende sangers saam te nooi, en ek sal weer, maar dit is by enkele optredes. Ek het destyds 'n lekker launch-konsert gehad vir almal, ek kon Bobby en Carike Londen toe vat en oom Al Debbo se loopbaan het sommer vanself weer momentum gekry. Daar was sulke optredes landwyd, en meer, waar ek kon. En almal is ALTYD betaal vir hul werk.
Toeka is 'n unieke projek. En strenggesproke het Billy 'n regspunt oor die video-opnames, maar dit is presies hoekom ek almal eers die vergunning vra. Om soveel kunstenaars 'n vol fooi per konsert te moet gee omdat hulle 'n videoversie doen van hul eie lied, sal 'n Toekakonsert, met tot 30 "gaste", enige plek ter wêreld onmoontlik maak. Daarom speel ek oop kaarte met elke kunstenaar en elk kan kies of hy deel wou wees of nie. Meer as 50 kunstenaars wou!
Ek sal ook 'n nuwe kontrak met elk sluit indien ek 'n DVD van Toeka sou maak, maar dit is ‘n ander storie. Wat oneerlik was van Billy Forrest was om deur dit alles te gaan, weer vir die kameras te speel, die lied op te neem, die CD deelname-tantieme te aanvaar, die dúbbel ateljeefooi te vat en dan na alles "exploitation" te skree en te onttrek. Ek vra daardie geld nie terug nie, maar ʼn meer beginselvaste kunstenaar sou van meet af die fooie nie aanvaar nie.
Die Beatles se lied HELP sou eintlik my hulde wees aan Hotline, maar PJ Powers en ek trap al maande klei oor politieke kwessies. Toe bel ek vir Jennifer Jones om te kom help. Jennifer sal na dese as die grootste vroulike stem in Suid Afrika geëer word. Luister self hoekom! Ek het gedink Anton Goosen sou die moeilikste wees oor DIE STEM se latere toevoeging. Hy was skepties maar nugter: sy punt was om hom te bepaal by sy lied KRUIDJIE-ROER-MY-NIE en nie die ander, latere, besluite nie. Anton ken die ou gevoel van sensuurrade; hy was self 'n paar keer verban in die 80s!
Nog twee kunstenaars het getwyfel en die platemaatskappye het gou moes besluit tussen redekawel of sonder hulle voortgaan. Daar was nie meer tyd nie. Te veel ander kunstenaars wou op Toeka verskyn en ons het summier voortgegaan. Die afwagting was groot en die CD reeds weke laat weens hierdie laat onttrekkings. Ons was in die moeilikheid. Met elke oproep van iemand wat twyfel of onttrek, moes ons vinnig dink en baie vinnig werk. Die CD moes dan oorgesny word, die omslag oorgedoen word, die plakkaat landwyd verwyder word en die biografieë en persvrystellings oorgeskryf en weer gesirkuleer word. Dis nie 'n grap nie. Ek het oornag grys word. En my senuwees was klaar. Teen my 50ste verjaarsdag was ek reg om die projek sonder enige gaste te voltooi.
Maar Toeka 3 bestaan uit sangers wat daar wóú wees en dít is wat tel. Vanoggend, met die album in my hande, bars ek van trots. Dit is oor húlle en oor jou wat ek volhard het. Helaas is DIE STEM nie deel van elke konsert nie, maar dit klink dêm pragtig op Toeka 3. Daar vir jou heimwee en trots. Nostalgie is lekker. En dié keer ingesluit op Toeka 3: gratis hoendervleis. Dis joune. Verniet. Wel, amper verniet, as jy Toeka 3 wil luister.
Die Toeka konserte sal weer werk.
Mense sal verbaas staan en staar na kunstenaars wat hulle miskien van vergeet het. Hulle sal hul ou helde weer wil hoor, hulle opsoek, hulle bespreek, hulle aankoop en almal sal beter-af wees. Hul name sal weer eggo in die musiekkamers van tyd. Die Toeka Toer is 'n voorraadopname van 'n geweldige skatkis van liedjies waarop ons almal verlief en trots is. Man, meeste van ons is gemaak op hierdie wysies...
Op Toeka 3 herinner ek jou net weer aan daardie kulturele bate. En as Pierre en Anton of Jennifer en Cindy jou weer beïndruk, gaan koop asseblief hulle CDs ook! Hulle is jou monumente.
Ek is bly ek het nie opgegee nie. Die eindproduk is verstommend. Niemand is vervang nie. Ek het EK VERLANG NA JOU en TINY BUBBLES steeds kon sing, (omdat Sonja en Billy nie die outeurs daarvan was nie). Altesaam 2 sangers verskyn nié weens DIE STEM. Ek aanvaar hul platemaatskappye se besluit. Die konsert is egter 'n plesier om te sien en te doen. Dankie vir almal se werk, vergunning en deelname. Dankie vir die wat vêr gereis het om te kom saamsing. Dankie Anton, Fanie, Pierre, Danie, Clive, Cindy, Jennifer, Herbie asook Coenie, Gert, Bobby, Petro en natuurlik Ge Korsten!
Ek is dankbaar. Ons sal weer. Met Toeka 4: The Bats, Ian&Dix, Joanna Fields, Min Shaw, The Flames, Tommy Dell, Rabbitt, Dave Mills en Manuel Escorcio...wie weet!

Kry jou Toeka 3 kopie en kom kyk die konsert!
Dit toor my. Dit sal jou ook toor.
Steve

No comments:

Post a Comment