Sunday, September 14, 2014

Hofmeyr los goue oues ná vrae oor ‘Die Stem’


Hofmeyr los goue oues ná vrae oor ‘Die Stem’


Steve Hofmeyr | Foto: Herman Verwey

Steve Hofmeyr het na bewering ’n liedjie wat hy saam met Sonja Herholdt opgeneem het vir sy jongste Toeka-album op die nippertjie van die CD laat verwyder toe Herholdt dit gewaag het om die insluiting van “Die Stem” op die album te bevraagteken.
Dieselfde lot het Billy Forrest, 74-jarige countrylegende, getref.
Toeka 3 is die jongste CD in Hofmeyr se gewilde reeks waarop hy duette saam met ouer (en dikwels vergete) kunstenaars sing.
Volgens ’n bron in die musiekbedryf het Herholdt in ’n e-pos aan Hofmeyr se platemaatskappy, Universal Music, gevra of dit wys is om ’n lied “met ’n politieke aanslag” in te sluit. Hierop het Hofmeyr glo min­agtend gereageer en ’n beledigende SMS gestuur waarin hy sê Herholdt is “maklik vervangbaar”.
Forrest, ’n countrylegende wat sy eerste langspeler reeds voor Hofmeyr se geboorte opgeneem het, het aan Rapport gesê hy weier om by Hofmeyr “gat te kruip” en sê reguit as hy nie saamstem met iets wat dié sanger doen nie. “Ek wil nie geassosieer word met ‘Die Stem’ nie. Dit is ’n baie sensitiewe lied en ek het ook baie swart ondersteuners.”
Forrest beskuldig Hofmeyr van “gierigheid” weens sy besluit om nie die kunstenaars wat hom met Toeka 3 gehelp het saam te neem op toer nie.





Sonja Herholdt het begin vrae vra oor die gepastheid van “Die Stem”.
“Ek het aan die Toeka 1- en Toeka 2-album deelgeneem en Steve het ons saam op sy toere gevat. Dit was goeie publisiteit en het my loopbaan weer op dreef gekry.”
Hy sê dié keer gaan Hofmeyr “net amateuragtige videomateriaal van ons in sy vertonings speel”. Hulle is net geregtig op die tantième op die CD-verkope. Forrest sê hy verloor finan­sieel deur sy besluit, “maar ek doen wat reg is”.
Gert van Tonder, wat destyds saam met Sias Reinecke lid was van die gewilde Groep Twee, sing ’n duet saam met Hofmeyr op Toeka 3, maar sê hy het nie ’n probleem met “Die Stem” nie. “Dit is net nog ’n nostalgiese lied.”
Anton Goosen sê hy sing die middelste versie van sy treffer “Kruidjie-roer-my-nie” saam met Hofmeyr. Hy sê die opname is gemaak “lank voordat Steve met ‘Die Stem’-manewales begin het”.
Hofmeyr het nie op Rapport se navrae gereageer nie. Universal Music het ontken dat Forrest of Herholdt gedreig of beledig is. Herholdt wou nie kommentaar lewer nie.
■ Hofmeyr het Sondag getwiet: Ek los’ niemand. Drie oues het ONTTREK. Twee daarvan oor Die Stem. Liedjies bly.

No comments:

Post a Comment