Sunday, December 28, 2014

Steve Hofmeyr

Daar was vandag meer as 120 Geloftefeeste land- en wêreldwyd. Bo-Cornelisrivier s'n is een van die oudstes asook een van die langstes. En koudstes. En as ons so aangaan sal jukskei eersdaags 'n Olimpiese item word!
Dank aan Dirk, Riana en almal daar wat ons so vriendelik ingeneem het. Dankie Jay.
Hier is enkele paragrawe uit my 16 Desember Geloftefeestoespraak, 2014 (foto links)

"Ons is hier. Nie gedwonge nie. Ons kom saam in die taal van ons moeders, die gemak van ons kollektiewe gewoontes en oop arms van ons kultuur, in die skadu van ons God. ‘n Ou momentum van ou samehorigheid. Waar ons ons veilig voel. 'n Volk se sametrek is noodwendig die plek waar hy minste hoef te konsentreer. Hy moet net wees."
"Want as jy nie jou witskuld afkoop nie, word jy die transformasie se moeilikste kliënt. Jy is reeds sy onmisbaarste kliënt."
"Niemand bou vir ons hierdie monumente nie. Nie niemand skep vir ons ‘n geskiedenis of kultuur nie, en niemand ry ons aan met busse om te sien of daardie erfenis bestaan nie. Ons heilige dae verskyn nie op die staat se kalenders nie. Ons slaap in die veld om weer te proe wat bykans DNA by ons is. Ons is die enigste groep ter wêreld wat monumente oprig vir ons taal, nie een, of twee nie, 32 wêreldwyd. Vir 2e handse burgers is ons darem donners trotse Suid Afrikaners. Hulle verdien ons eintlik glad nie."
"Die grootste Afrika-mite van die 20ste eeu was die een wat aanvoer dat die Boerevolk nie die reg gehad het op die grond van sy voorvaders nie, dat die kontrakte met inheemse stamleiers nou skielik onklaar is, dat die grootste kontrak van almal tot niet is: die van die grafte van ʼn nietige minderheid wat wêreldvorste op 'n afstand kon hou oor die reg op daardie grond, om dit te besit, om daarop te maak en breek soos hy wou, om beskawing te bring, te plant en te bou soos hy goed dink, om te ploeg, vore te herlei en kuddes af te baken soos hy weet hy moes, om heinings te span óm dit waarvoor hy betaal het met die sweet van sy aangesig, om sy lammers in te hou en die jakkalse buite, om daarop wetgewing in te stel vir sy oorlewing, nie net vir die asemhaling van sy kultuur en Europese gewoontes nie maar vir die asem van sy broer, sy suster, sy vrou en sy kind. Dít is ons saak. En dit is al wat hulle nodig het: om jou dit te maak twyfel."
"Nasies word nie gebou nie. 'n Nasie is en het ʼn lang, aanskoulike aanloop, aangeteken deur die eeue, met 'n organiese genesis, 'n evolusie deur eras van ontwikkeling, prestasie en feilbaarheid. Dit word nie oornag gebou uit die sagte handjies van wanpresterende regerings nie, met ‘n stokperdjie van staatsinmenging nie. Ek kan aan min dinge dink wat kom met minder gesag as 'n geboude nasie."
"Ek het Skeinat gedop. Ek dink ek het 40% gekry. In vandag se terme is dit bykans ‘n onderskeiding."
"Ek ken geen ras wat nie die potensiaal wys om enigiets onder die son reg te kry nie. Dis nie dat hulle nie kan nie. Dit is wel dat hulle nie het nie."
"En daarom sal jy my nie my Gelofte laat opgee vir jou fasade van Versoening nie. Is dit te veel gevra om verkrag en verniel te word teen die koers van die stamlande van ons voorvaders sonder om ʼn rassis genoem te word?"
"Die vyand se loopgraaf is lank en hy lê wyer as ooit. Ons kan hom nie flankeer nie. Ons moet ongelukkig deur. Ons herdenk jaarliks ons gelofte by Bloedrivier om ʼn taktiek te herleef wat ons blykbaar vir die res van ons bestaan daarna gesystap het."
"Ek vra vir een spesiale poging tot stilte van ons geestelike leiers, om ons nou te lei, met een manifes, nie twintig nie, met ‘n suiwer motto en ‘n belydenis wat ons saam snoer, nie uit mekaar laat spat nie.
Ek vra van my politieke leiers meer as volkstate. Sê my die hoop beskaam nie dat ek ‘n moontheid kan omhels waar ek vry kan wees sonder om te trek of te immigreer, ‘n Suid Afrika waar selfbeskikking nie nodig sal wees nie."

"Ek soek ʼn Afrikaner wat klaar is met tydmors en ek soek ʼn slim, taktiese Boer. 'n McGuyver. Een wat weet wanneer om deur die middel te breek en een wat weet wanneer om te flankeer. Een met ‘n neus vir beuselagtigheid en ‘n palet vir erns.
Eers dan kan ons praat van kultuur."

"Ons moet mekaar eers buite-parlementêr om die vuur ontmoet voordat ons weer meer as vier verteenwoordigers binne-parlementêr sal sien.
My advies is eenvoudig: staan op, kry vir jou ‘n Boer of tien en loop braai.
Dit is ‘n bevel."
*
Chris Chameleon en ek in onder andere London 25 April 2015. Vir inligting laai South African Events se App af. http://southafricanevents.mobapp.at/landing/Desktop#
*
Laaste vier vertonings in die Kaap! Hier kom ons!!

No comments:

Post a Comment